Blink-182: die terugkoms

by PDBY Staff | Aug 2, 2011 | Entertainment

CHRIS VAN DER MERWE

1992 was sekerlik `n baie onvergeetlike jaar vir verskeie redes. Een van dié is Blink-182.

Die meeste van ons ken meer as net `n paar van hulle liedjies. Jy het dalk jou longe uitgesing op die koor van “All The Small Things” by jou Graad 8 lentesokkie, of jou inner-rebel het onwillekeurig geïdentifiseer met die lirieke van liedjies soos “Reckless Abandon”. Miskien was jy vasgevang in die boodskap van liedjies soos “Stay Together For The Kids”. Hoe ook al jy vriende met hierdie groep gemaak het, is die kanse goed dat hulle `n belangrike rol reg deur jou jonger jare vertolk het.

Dit voel altyd asof groepe soos Blink-182 vir ewig musiek gaan maak wat aan die musikale begeertes van die jeug sal voldoen, maar ongelukkig werk dinge nie altyd uit soos wat mens wil hê dit moet nie. Voor die aanvang van `n Noord-Amerikaanse toer, geskeduleer vir 2005, het die spanningsvlakke tussen groeplede Tom DeLonge en Mark Hoppus so gestyg dat die toer gekanselleer is sonder rede, en dat die groep `n onbepaalde breuk geneem het. Al drie die groeplede het ander projekte begin – Tom DeLonge het die groep Angels & Airwaves gestig en +44 is deur Mark Hoppus en Travis Barker gestig.

Vier jaar het verloop sonder enige nuus van hervorming van die groep. By die 51ste jaarlikse Grammy-toekennings in 2009 het Tom DeLonge, Mark Hoppus en Travis Barker vir die eerste keer sedert Desember 2004 saam op die verhoog verskyn, met `n doodeenvoudige boodskap: “Blink-182 is terug”, tesame met die belofte dat hulle aan `n nuwe album gaan werk. Die groep het daarna op `n reünie-toer regoor Noord-Amerika en Europa gegaan.

Die groep se nuwe enkelsnit, “Up All Night”, is uiteindelik op Vrydag 15 Julie bekendgestel. Aanhangers het gemengde reaksies getoon. Daar was diegene wat absoluut mal was oor die samesmelting van verskillende musiekstyle, maar daar was ook dié wat gekla het oor Tom DeLonge se stem wat glo klink asof dit hopeloos te veel geredigeer is.

Mark Hoppus het op dieselfde dag deur sy Google+ rekening die titel van die opkomende album bekendgestel. “We’re all like different neighbourhoods in a city,” was Hoppus se woorde toe hy die inspirasie agter die albumnaam, Neighborhoods, verduidelik het. Hoppus het ook vertel hoe hy, DeLonge en Barker baie uiteenlopende musieksmaak het. “Travis het sopas `n hip hop album gemaak, Tom praat altyd oor U2, Coldplay en The Police en ek luister na obskure Indie-tipe musiek.” Hy het ook aan MTV News geskryf: “Ons elkeen dra `n baie anderste tipe estetiese klank en talent tot die groep by.”

Die nuwe album word amptelik op 27 September 2011 bekendgestel.

Mens kan nie help om `n hoë kwaliteit album te verwag nie, aangesien dit meer as twee jaar geneem het om op te neem. Die groeplede is ook meer ervare en is blootgestel aan verskillende musiekgroepe en -style. In alle aspekte is Blink-182 terug met mag en met mening.

Image: www.smellslikealternative.blogspot.com

Website | view posts