Big Brag met ‘n “tukkie” Afrika

by PDBY Staff | Mar 17, 2010 | Uncategorized

MARELIZE MEYERS

 Vanjaar se Big Brag het studente rasend gehad. Dit is vanjaar op 4 Maart in Hatfield Square gehou om te besluit watter koshuis die beste banier en strydkreet het. Die aand het afgeskop met die bekendstelling van die finaliste vir die Mnr. en Mej. Intervarsity-kompetisie. Die finaliste het elk sy of haar koshuis verteenwoordig en het die nodige aanmoediging van die gehoor gekry toe hulle vrae moes beantwoord om die beoordeelaars te beïndruk. Na nog ‘n uitdunronde was dit Maroela en Zinnia wat met die titels weggestap het. “African dream” was hierdie jaar se Big Brag-tema en Curlitzia was eerste op die verhoog met hulle kreet: “From east to west, Curlitzia is the best!” Zinnia, wat aan die einde van die aand met die eerste plek weggestap het, het Nigerië voorgestel en die gehoor met Afrikadanse vermaak. Lilium, tweede, se Egiptiese banier was beslis iets vir die oog. ‘n Groot geitjie oor ‘n sokkerveld gestrek het daarop gepryk en sodoende baie aandag getrek. Nog ‘n Groenkloof-koshuis, Inca, het met hul uitbeelding van Ghana die derde plek behaal. Sonop het alles gehad wat nodig was om as vanjaar se manswenners van die Big Brag weg te stap. ‘n Goeie banier, ritmiese danse en oorspronklikheid. Daarby was hul ook nie skaam om hul hemde uit te trek nie. Hulle T-hemde was heel oorspronklik met verskillende letters op elkeen. Hulle het die gehoor vasgevang met verskillende kombinasies van die letters. Aangesien hulle Togo verteenwoordig het, het hul “Togo Tuks”, “Go to Tuks”, en “Sonop” met dié T-hemde gespel. Kiaat het die skare verstom met ‘n vuurvertoning en ‘n bannier wat sê “Yoh, Kiaat kan maar rock out” en het daarmee die tweede plek behaal. Vividus Mans het ook Egipte as tema gehad en derde geëindig. ‘n Tekort aan oorspronklikheid, kreatiwiteit en sokkergeesdriftigheid was daar beslis nie by vanjaar se Big Brag nie.

Website | view posts