Balbesit: “Waar is die bal, ouens? Kom ons speel!”

by PDBY Staff | May 27, 2013 | Entertainment

 

Botha verduidelik: “Mense weet dan wat hulle is, maar wie hulle is maak nie saak nie.” Rugby word dus as metafoor gebruik om `n stem aan die mans te gee. Die produksie handel oor iets veel dieper as net `n rugbyspan. Rugbyfasette soos lynstane, skrums en afskoppe word uitgebeeld met `n dieper konteks daarby. Botha beskryf die produksie as deels protes, maar veral `n pleidooi om burgerlike deelname.

“Ek wil graag mense betrokke kry by die sosiale politiek van die dag,” het sy gesê. “Ek wil hê mense moet opinies formuleer en sê as hulle ongelukkig is.”

Saartjie Botha het vanjaar die Afrikaans Onbeperk-prys vir vernuwende denke ontvang. Sy het aan die idee van Balbesit gekom deur internetkommentaar. “Ek dink mense skryf anoniem interessante goed op die internet waarvoor hulle nie bereid is om pa te staan nie,” het Botha gesê.

Van die akteurs in Balbesit te sien sluit in Wessel Pretorius, wat onlangs vier Fiesta-bekronings ontvang het en Brendon Daniels wat in Boland Moorde te sien is.

Sodra die gehoor in die teater instap, is die rugbyspan reeds op die verhoog besig met intense oefeninge. Met hulle eenderse wit kleredrag beweeg die span reg deur die opvoering op-en-af met passies wat deur Ina Wichterich gechoreografeer is. Vanaf die eerste toneel bars die rugbyspan uit in sang wat die gehoor laat regop sit. Braam du Toit en Awie van Wyk het gesorg vir die musiek.

Met `n wisselwerking tussen skaterlag oomblikke en intense emosies bly die gehoor se aandag op die akteurs gerig.

“Daar is baie humor in die stuk so dit is nie net swaarmoedig nie,” het Botha genoem. “Ek dink mense ervaar `n breë spektrum: hulle lag en is ook ontsteld.”

Deur die musiek, choreografie en die maatskaplike kwessies wat deur rugby uitgebeeld word, is hierdie produksie `n ervaring wat mense nog lank gaan onthou.

Balbesit word by die Staatsteater vanaf 22 Mei tot 2 Junie opgevoer.

BEVINDING: 8/10

Photo provided

Website | view posts