MIGNON PEENS
As dit by kieme kom, verskil almal. In die ergste graad kry mens obsessief-kompulsiewe kiembewuste fanatici, met hul handwasseep altyd byderhand. Dan is daar weer diegene wat nie `n veer voel vir al die onsigbare bakterieë in ons kiembesmette wêreld nie. Vir eersgenoemde groep is dit geen geheim dat kieme om elke hoek en draai skuil nie, maar of dit nou vir jou saak maak of nie, daar is heel waarskynlik `n paar interessante en skrikwekkende feite oor bakterieë waaroor jy nie beskik nie.
Perdeby het gaan ondersoek instel na algemene kiem-mites waarin Tuks-studente glo. `n Eerstejaar ingenieurswese student, Sinea Van Wijngaarden, reken dat dit ironies is dat mense so bohaai opskop oor die kieme wat mens deur jou mond inneem. “Aangesien jou mond die mees bakterie-gevulde plek op aarde is, wat maak dit nou rêrig saak?”
`n Studie deur navorsers by die Forsyth Instituut in Boston toon dat hoë vlakke van sekere mondbakterieë verband hou met mondkanker, hartaanvalle en `n verskeidenheid siektes in jou liggaam. Dit is waarom dit so belangrik is om jou tande te borsel en `n punt daarvan te maak om gereeld te vlos.
Dr. Thomas Connelly, `n bekende kosmetiese tandarts van New York, reken dat ongeveer 45% van tieners weens stres hul naels kou. Die naelbyters op kampus sal nie te gretig wees om die volgende te hoor nie: die televisieprogram MythBusters het bewys dat dit vuiler en meer onhigiënies is om jou naels te kou as om `n toiletsitplek te lek of `n kokkerot se kop af te byt. Dr. Connelly sê dat mense gereeld hul tandvleis met hul skerp naels sny en so word die kieme dan in hul bloedstroom opgeneem.
Volgende kyk ons na publieke badkamers. Haglike reuke veroorsaak dat dit `n alombekende vrees by baie mense is. Talle studente wat gevra is na hul opinies oor publieke badkamers, het erken dat hulle weier om `n publieke badkamer te gebruik tensy dit `n noodgeval is.
Op Good Morning America is dit bekend gemaak dat selfone, wat jy teen jou gesig druk tydens oproepe en waarop jy heeldag lank SMS’e stuur, BBM en WhatsApp, meestal vuiler is as beide `n toiletsitplek en die sool van jou skoen. Glo dit of nie, maar mikrobioloog Chuck Gerba reken dat `n vuil selfoon dodelike kieme kan versprei – dit sluit alles van velinfeksies tot breinontsteking in. Hy stel voor dat jy jou foon gereeld met anti-bakteriese lappies moet afvee.
Indien jy wonder wat van die vuilste dinge is waaraan jy op `n daaglikse basis raak, lees verder. Volgens www.ranked.com hou die volgende alledaagse items gesondheidsgevare in:
Eerstens, geld. Almal wil graag geld hê, maar nie noodwendig die kieme wat daarmee gepaard gaan nie. Ligskakelaars, rekenaar sleutelborde, TV-afstandbeheerders, skottelgoedwassponsies, deurhandvatsels, yskashandvatsels en natuurlik inkopiewaentjies haal ook die lys. Verbasend genoeg is baddens en wasbakke ook daarop. Dr. Connelly stel voor dat jy twee belangrike gewoontes aanleer: moenie aan jou gesig vat deur die dag nie, aangesien dit velprobleme meebring en was jou hande voor jy eet.
Daar is wel “goeie” bakterieë waaraan jy blootgestel moet word om “slegte” bakterieë af te weer en uit te balanseer. Babas bou hul immuniteit op deur alles wat hul sien in hul mond te prop. Dit is ook waarom reisigers siek word op hul vakansies, omdat hulle immuunstelsel nog nie weerstand teen vreemde kieme van ander lande opgebou het nie. Dit is selfs bewys dat talle anti-bakteriese seep eintlik `n negatiewe uitwerking het, aangesien dit ook goeie bakterieë afweer en veroorsaak dat jou liggaam se immuniteit teen skadelike bakterieë verswak. Dit is dus hoegenaamd nie nodig om jou lewe in `n plastiese borrel, uit vrees vir bakterieë, deur te bring nie.
Illustrasie: Ezelle van der Heever