ANDRI NEL
Kershouers wat sing, meerminne, marionette wat regte seuntjies word, Simba en prinsesse. `n Paar van die prentjies wat in elke student se gedagtes opkom as hy of sy vandag aan Disney dink. Niemand kan stry dat Disney die stories opgelewer het wat ons kinderdae vol verbeelding, opwinding en wense geprop het nie – daardie stories wat ons leer droom het. Vandag is animasiefilms op `n heel ander valk. Skerp sê-goed het sjarme vervang en die prins op sy wit perd is nou `n groot groen man. Alhoewel hierdie nuwe verwikkelinge in animasie enige dag net so opwindend is soos in die ou dae, kan niemand stry dat die oorspronklike Disney animasiefilms sekere idees in ons harte geplant het, reeds as kinders, wat ten minste Perdeby tot vandag toe net so bietjie sentimenteel laat voel. Perdeby het gaan ondersoek instel en die vyf Disney animasie films gekies wat ons as student tot vandag toe laat sug soos klein kindertjies.
The Lion King
Simba, Mufasa, Rafiki en moet nie Timon en Pumba vergeet nie. Baie studente se eerste film op die silwerdoek en ook een van die wat `n baie spesiale plek in ons harte het. Met Mufasa se dood het die trane geloop en die gemene, onderduimse Scar is tot vandag toe een van die mees gehate “baddies”. Daar is selfs Facebook groepe soos “I still want to cry every time Mufasa dies in The Lion King”, wat die impak van hierdie gebeure in die jeug van vandag se lewens beklemtoon.
Pinocchio
Die marionet seuntjie wat gewens het om `n regte seuntjie te wees. “When you wish upon a star,” het elke klein seuntjie en dogtertjie met verlangende oë na die sterre laat staar en laat glo dat wense regtig waar word. Die feit dat Pinocchio se neus gegroei het elke keer as hy jok was ook `n interessante verskynsel. Kinders het gejok, net om te sien of hulle neuse sal groei soos die houtseuntjie sin. Natuurlik het dit nie gebeur nie, maar tot vandag toe word die uitdrukking “as jy jok gaan jou neus groei” gebruik.
101 Dalmatians
Honderde – korreksie, honderd-en-een – klein Dalmatian hondjies wat weghardloop vir `n vrou in `n groot wit jas en tweekleur hare. Net die ding om enige kind te laat wens hy of sy kan `n hondjie vir sy verjaarsdag kry. Die aaklige Cruella De Vil het hoendervleis teen die nek laat op kruip en dit was `n feit dat honde werlik kan praat. Die gespikkelde hondjies het vinnig van die mees populêre honde geword en almal wou `n Pongo hê.
The Little Mermaid
Die klassieke storie van `n rooikop meermin wat gefasineer was met die wêreld bo die water. Sy was anders en het keer-op-keer in die moeilikheid gekom. Vir baie meisies het Ariel bewys jy hoef nie soos almal anders te lyk, doen en dink om met `n prins te trou nie, en soos sy haar wens gekry het om bene te hê, het baie meisies gewens om meerminne te wees. Somersdae is in die swembad deurgebring met voete styf teen mekaar om `n vin voor te stel en die “pool noodle” as getroue seeperd.
Cinderella
Van die kaiings by die vuurherd, tot `n pragtige prinses. Cinderella het toe, en nou, elke meisie laat glo in haar Prince Charming. Alhoewel Disney bekend is vir sy prinses animasiefilms, was Cinderella die een wat in meeste harte ingekruip het. Goeie dinge gebeur met goeie mense was die tema, en alhoewel ons grootgeword het en besef het die lewe is nie so maklik nie, hoop elke meisie steeds vir haar prins met die glas skoentjie en liefde op die eerste oogopslag. Dit mag dalk `n bietjie verwronge beeld van liefde wees, maar ons kan altyd droom, kan ons nie?
Illustrasie: Ezelle van der Heever