Alternatiewe vakgebiede vir die sosiale student

by PDBY Staff | Jan 20, 2010 | Entertainment

TALITA CALITZ

Op universiteit kan verskeie vakke redelik vervelig word. Dink een oomblik aan die moontlikheid dat vakke kan bestaan wat as “buitemuurse aktiwiteite” beskryf kan word. Alternatiewe vakke wat nie die brein soveel stimuleer nie, maar eerder aktiwiteite behels waarmee studente hulle in elk geval gereeld besig hou. Dit bestaan uit 98% kuier en 2% dinkwerk – wat die universiteit natuurlik nooit sal aanvaar nie. Hier volg ‘n paar denkbeeldige vakke waarvan enige student maar net kan droom.

Pick-up lines geletterdheid 101:

Hierdie module word in Afrikaans en Engels aangebied. ’n Goeie gemiddeld in humor is ’n vereiste om hierdie kursus te slaag. Die module poog om studente wêreldwys te maak (lees: om meisies in clubs, pubs, grubs en selfs op kampus met woorde te betower). Aspekte soos skaamheid en ‘n tekort aan sjarme sal getakel word. Afgeleefde pick-up lines soos “Are you a parking ticket? Because you got fine written all over you” sal prakties rondom die Hatfield-area aangewend word. Dit is om studente te leer waarom meisies nie met sulke opmerkings beïndruk sal wees nie. Nuwe en meer suksesvolle pick-up lines soos “Are you a tamale? ‘Cause you’re hot!” wat deur voorste “womanisers” ontwerp is sal in handboeke beskikbaar wees. Alhoewel ‘n aanvoeling vir styl natuurlik moet kom, sal hierdie vak studente help om hulle voorkoms op te knap. Te veel aftershave, haarprodukte en wit skoene kan die geleentheid deur jou vingers laat glip nog voordat die regte pick-up line opgedis kan word.

Manvangkunde 110:

Die inhoud van hierdie vak is gemik op desperate meisies wat sukkel om die teenoorgestelde geslag se aandag te trek. Meisies sal leer hoe om verleiende uitrustings te dra – sonder om “maklik” voor te kom. Die module word in die oggende teoreties aangebied en praktiese opdragte sal in die aande geskied. Meisies sal op grond van die volgende aspekte geassesseer word: hoe om oogkontak by die kroeg te maak, hoe om te dans sonder om op die gekose kandidaat se tone te trap, sowel as om rasionele besluite te kan neem wanneer die vraag “Wil jy koffie by my flat kom drink?” opduik.

Foosball 110:

Hierdie module is verpligtend vir studente wat na die volgende vlak van coolheid wil beweeg. Klasse word elke aand aangebied en bier word tydens lesse toegelaat. Die vak poog om studente in sosiale interaksie touwys te maak sodat hulle ander se gatte tydens kuiersessies kan skop. ’n Wye spektrum van bedrewenhede sal oor die foosballkuns aangeleer word, wat Tukkies-studente in tye van besopenheid die voorhand sal gee.

Drinksielkunde 101:

Dié vakgebied word aangebied op voorwaarde dat studente nie lesse op ‘n leë maag moet bywoon nie, want dit kan tot ’n nuwe vlak van bewegingsiekte lei. Die optimale toestande vir die vak is in Hatfield Square, waar daar nooit ’n tekort aan alkoholiese drankies is nie. Mense wat al met dronk verdriet gediagnoseer is, word nie aangeraai om aan die module deel te neem nie. Hierdie vak poog nie om studente in suiplappe te verander nie, maar eerder te leer hoe om in groot hoeveelhede te kan drink, sonder om uit te pass. Elke onderskeiding word met ’n kas bier beloon.

Langarm 101: 

Hierdie vak sal op gewilde Afrikaanse treffers soos “Kaptein, span die seile” en “Loslappie” fokus. Liedjies soos dié sal die kern van die module vorm, sodat studente die essensie van wat langarm is kan begryp. Aspekte soos ligvoetigheid, goeie balans en ’n aanvoeling vir ritme is verpligtend. Studente wat hou van langarm is egter geneig om by vergissing ’n dansvloer oor te neem. Hierdie studente sal geleer word om vreedsaam die dansvloer te deel en ander ook ’n kans te gee wat nie van Jakkie Louw of Kurt Darren hou nie

Website | view posts