Alan! druk die knoppies

by PDBY Staff | Aug 2, 2010 | Entertainment

NATASHIA HUDSON

 Alan! Let’s move on is die Jakarandastad se nuutste elektroniese indie/pop musiekgroep om aandag te trek en musiekkenners hulle ore te laat spits. Dié groep bestaan uit broers Louis Knoetze (sang en baskitaar) en Daniel Knoetze (sang en kitaar), saam met Louwrens Ferreira (“ek druk die knoppies”: elektroniese klanke) en Erje Smith (tromspeler).

Alan! Let’s move on, wie se eerste kortspeler in Januarie vanjaar uitgereik is, is huidiglik besig met live shows in Pretoria en Johannesburg en die band mik om hulle eerste musiekvideo en vollengte- album in Januarie 2011 vry te stel. Perdeby het met Louis, Daniel en Louwrens gesels oor die naam van die groep, flieks wat hul musiek beskryf en wat hulle wil doen voor hulle die emmer skop.

Volgens die ouens van Alan! Let’s move on, kry die musiekgroep sy eksentrieke naam by Chris Walla (Death Cab for Cutie se kitaarspeler) se lirieke vanaf sy solo-album. Dit is dan juis ook Death Cab for Cutie, saam met Radiohead en Joy Division, wat volgens die band die wêreld ’n lekkerder plek maak met hulle musiek. Louis en Daniel, met hulle uiteenlopende style, skryf Alan! Let’s Move on se lirieke en musiek  eers op akoestiese kitaar. Dan voeg Louwrens sy elektroniese klanke by.

Die ouens van die band, wat hul musiek as “lewendig” en “mooi” beskryf, is egter nie net musikante nie, maar is ook tans besig om te studeer. Louis studeer sielkunde, Louwrens jazz en Daniel rolprentproduksie. As hulle ’n droomberoep buiten musiek en hulle studierigtings moes kies, sou hulle cowboys wees. Toe die groep gevra is oor hulle “bucket list”, is om op ’n tier te ry heel bo-aan die lys. En, laastens, as Alan! Let’s move on hul musiek kon beskryf deur na flieks te verwys? Hulle aarsel effens voordat hulle met ’n besliste Winter passing en The Royal Tenenbaums antwoord.

Alan! Let’s move on se volgende optredes vind plaas 10 Augustus saam met Wrestlerish en Lucky Fonz III by Tings ’n Times in Pretoria en 14 Augustus saam Tidal Waves en Lucky Fonz III by Cool Runnings, Victory Park, in Johannesburg.

Website | view posts