Akoestiese klanke uit die Kaap

by PDBY Staff | Oct 25, 2010 | Entertainment

ANDRI NEL

Met die strelende akoestiese klanke van kitaar en mondfluitjie, ‘n Kaapse aksent en die stem van ‘n engel, raak jy weg in die musiek van Kaleidoskoop. Hierdie akoestiese pop-folk groep van Stellenbosch, soos hulle hulself beskryf,  is stadig maar seker besig om ‘n naam vir hulleself te maak.

Kaleidoskoop bestaan uit Anique Jordaan (die engelstem,) Jouba Jordaan (die voorsanger, liedjieskrywer en kitaartokkellaar wat wynmaakkunde studeer het) en Ben Ludik (die trekklavierspelende grafiese ontwerper.) Die groep het wel al lank voordat hierdie drie mekaar geken het, begin. As ‘n koshuisstudent in Stellenboch het Jouba en ‘n paar van die ouens in sy koshuis die stappie van sing in die stort na serenade-sing op die tradisionele manier  vir die meisieskoshuise, geneem. Die ouens het só populêr geraak dat die dameskoshuise hulle begin uitnooi het vir vertonings. ‘n Semi “Summer of ’69-moment,” soos Jouba dit noem, het die groep elkeen hul eie paadjie laat invaar en hieruit het Kaleidoskoop soos hulle vandag bekend staan, tot stand gekom. Alhoewel dit op hierdie stadium net dié drie in die groep is, hoop hulle om in die nabye toekoms ‘n baskitaarspeler, drummer en nog ‘n kitaarspeler by hul Kaapse klanke te voeg.

Die vreemde naam van die groep kom van ‘n regte kaleidoskoop af – ja, daardie plastiese draaigoedjies waardeur jy as ‘n kind gekyk het na veranderende patrone en kleure. Volgens Jordaan is die boodskap agter hulle musiek positief. Hierdie kleure en patrone in die kinderjarekaleidoskoop simboliseer net dit: ‘n positiewe uitkyk op die lewe, liefde en mense. Wanneer jy gaan sit en na die woorde van die groep se liedjies luister, is dit baie duidelik dat hulle iets anders aan die publiek wil verskaf. Dit is nie alledaagse commercial tipe musiek nie en elke liedjie het ‘n boodskap wat jou inspireer  om weer te wil droom. Musikaal-gewys kan Kaleidoskoop vergelyk word met ‘n ander Suid-Afrikaanse groep, Die Melktertkommissie. Op ‘n meer internasionale vlak , klink hulle soos ‘n groep wat op die Twilight soundtrack met van die beste indie musiek van ons tyd sou verskyn.

Ten spyte van die feit dat hierdie drie musikale eks-Maties al ‘n hele paar jaar aan die gang is as ‘n groep, het hulle eers hul eerste CD in die middel van hierdie jaar vrygestel. Die CD, met die pittige titel Platsak, wat heel gepas is vir studente, is slegs op die internet en by privaatverspreiders beskikbaar. Dit is omdat hulle al die pad die indie-ding doen en hul CD’s self opneem en nie aan ‘n platemaatskappy behoort nie. Alle inligting is op hulle webwerf (www.kaleidomusiek.co.za) beskikbaar. Hulle Facebookgroep  onder die naam “Kaleidoskoop Musiekgroep,” is nog  ‘n goeie inligtingspunt vir aanhangers,  asook Twitter (soek net die naam kaleidoskoop3.) Hulle het ook al ‘n musiekvideo op MK met die naam “Bangjan Dooie Man.”

Wat begin het as drie studente van Stellenbosch wat saam sing, het nou in ‘n voltydse werk ontaard, en alhoewel hulle nou steeds nog net aan die beginfase van hul loopbaan is, lyk die toekoms blink. As jy op soek is na eerlike lirieke gepaard met lekker akoestiese klanke, dan is Kaleidoskoop net vir jou.

Foto’s: Bernard  Bravenboer

Website | view posts