HENALI KUIT
Die jongste tabakwetgewing laat behoorlik bolle nikotien by gesoute rokers se ore uitborrel. Vervolgens bepalings wat in 2007 en 2008 deur die Parlement neergelê is en nou van krag is, is dit onwettig om in ‘n buitelugarea wat net gedeeltelik toe is (soos ‘n stoep, balkon of parkeerarea) te rook. Dis ook teen die wet om ‘n kind jonger as twaalf jaar aan rook bloot te stel (hetsy in ‘n voertuig, leerinstelling of plek van besigheid). Wat die meeste wenkbroue lig, is die allemintige boetes wat restaurante en kuierplekke (tot en met R50 000) en individue (tot en met R500) opgelê kan word as daar gerook word waar dit, volgens wetgewing, verbied word. Perdeby vind dié week uit of Tukkies die skoner lug waardeer.
Xena le Roux, ‘n derdejaar joernalistiekstudent, haal verseker dieper asem. Sy is glad nie ten gunste van rook in ‘n publieke plek nie. “Dit maak my siek, ek kan dit nie vat nie,” beklemtoon sy. “Dit frustreer my baie, ek hou regtig niks daarvan nie.” Le Roux voel nie dat die nuutste wetgewing enigsins onregverdig is teenoor rokers nie, inteendeel: “Ek dink eintlik dis partykeer meer onregverdig teenoor mense wat nie rook nie, want baie keer kry rokers die beste plekke in die restaurante.”
Melissa Grobler, ‘n derdejaar BA Visuele Studies-student, stem glad nie saam nie. “Ek kon gewoonlik buite sit,” vertel sy, “en nou moet ek binne ‘n rokerarea sit – wat stink.” Sy meen dat tabakrook wel deur wetgewing gereguleer moet word, maar dat die huidige wette te dik vir ‘n daalder is. “Ek dink [die opskerping van regulasies] is goed en ek is baie bly hulle laat nie meer kinders in rokerareas toe nie. Maar ek dink dit raak bietjie te erg.”
Op die oog af lyk dit of die restaurant Burgundy’s op ons kampus met Grobler saamstem. Dié koffiewinkel se rokerarea is buitekant en boonop by die besigheid se ingang. Marie van Eden, die eienaar, verduidelik dat geen nuwe wetgewing al skriftelik aan hulle deurgegee is nie en dus, “hou ons nog by die vorige rookwet, wat sê mense mag nie onderdak rook nie”.
Van Eden sê dat sake glad nie by rookwetgewing baatvind nie. “Weet jy, die mense hou niks daarvan nie,” vertel sy. “By die universiteit rook ‘n groot persentasie mense, ek wil amper sê die helfte van die studente rook.” Uiteraard word restaurante soos Van Eden s’n beïnvloed deur klante wat verontrief voel. “Ons het elke dag ‘n probleem,” sê Van Eden, “as dit koud is, of dit reën wíl mense onderdak sit en hulle wíl rook, as dit reën loop mense terstond.” ‘n Roker is ‘n harde koejawel en moeilik om tevrede te stel en, aldus Van Eden, kla rokers gereeld dat hulle ongerieflike sitplek het, terwyl nie-rokers “wat sê ‘die rook pla my’ verskríklik min is”.
Christina Steenkamp, ‘n tweedejaarstudent wat erfenis- en kultuurtoerisme swot, en Stephan Botie, ‘n derdejaarstudent wat siviele ingenieurswese swat, vertel albei dat rokery in die publiek hul nog nooit gegrief het nie. “Een of twee sigarette pla my nou regtig nie,” sê Botie. Tog is hul positief oor opgeknapte wetgewing. “Ek bedoel – dit gaan tog oor gesondheid,” wys Steenkamp uit.
En aangesien dit blyk dat nasionale gesondheid in hoofletters op die regering se agenda staan, wees versigtig waar jy volgende jou sigaret opsteek. Rook veroorsaak nie net kanker nie, maar dalk net bankrotskap ook.