Afrikaanse rolprentbedryf weer Bakgat

by PDBY Staff | Oct 25, 2010 | Entertainment

NATASHIA HUDSON

Die Afrikaanse rolprentbedryf het van toeka tot nou behoorlik wipplank gery. In die meestal verbeeldinglose rolprente van die jare 60s en 70s ontmoet die held sy trouvrou, die tweetjies word smoorverlief, baklei ’n paar keer en beloof dan ewige liefde aan mekaar. Rolprente in die 80s en vroeë 90s wat aandag trek is baseer op gewilde televisiereekse soos Agter elke man (1990).

Dan beleef die Afrikaanse rolprentbedryf `n herlewing met platvloerse komedies soos  Lipstiek Dipstiek (1994) en die Leon Schuster-flieks. Die`n Katinka Heyns rolprent, Paljas (1998), word as die enigste ligkolletjie tydens hierdie era van die Afrikaanse rolprentbedryf beskou.

Tog is die Afrikaanse rolprentbedryf nie verlore nie en ’n nuwe Afrikaanse fliek-era skop vanjaar in Suid-Afrika af. `n Nuwe generasie Afrikaners dra by tot `n opwindende rolprentrenaissance met flieks wat nie noodwendig uit spesifieke genres, beehive-haarstyle of platvloerse toilethumor bestaan nie.

Jakhalsdans (2010), met Theuns Jordaan, Elizma Theron en Christina Storm, vertel ’n eenvoudige liefdesverhaal en behaal heelwat sukses by rolprentteaters. Kort op sy hakke volg Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom wat op die bekende skrywer Marita van der Vyver se lekker-lees jeugverhaal met dieselfde titel gebaseer is. Anna-Mart van der Merwe skitter in die rol van die swanger loskop ma en wys weereens hoeveel unieke talent op eie bodem te vinde is.

Susanna van Biljon, met Karen Zoid in die hoofrol,en die gewilde Bakgat 2 het nog tot onlangs by teaters gedraai. Al wat jongmens is kon weer lekker saamlag in dié plaaslike antwoord tot American Pie en hoop al reeds vir ’n Bakgat 3. In November word Afrikaanse gehore weer bederf met Liefling – ’n Afrikaanse musiekblyspel met Bobby van Jaarsveld, Kurt Darren en Carike Keuzenkamp. Die fliek beloof om die Afrikaanse rolprentbedryf ’n verdere facelift te gee. Liefling begin einde November by rolprentteaters landwyd draai. 

Die Afrikaanse rolprentbedryf is nou weer behoorlik aan die blom en dit hang beslis van Afrikaanse gehore af om te keer dat dié rolprentbedryf nie weer verlep nie.

Image: flickriver.com

Website | view posts