21 Desember 2012

by PDBY Staff | Feb 15, 2011 | News

CHRIS VAN DER MERWE

 

Die Maja’s het dit voorspel, Nostradamus het daaroor geskryf en onlangs sien ons net meer tekens dat die wêreld snellig oppad is om die spreekwoordelike emmer te skop. 21 Desember 2012 is die klaarblyklike datum waarop die vyfde grootste planeet in ons sonnestelsel se bestaan tot `n einde gaan kom. Daar is verskeie voorspellings te vinde rakende 2012, van die bekende Maja Kalender wat eindig op 21 Desember 2012 tot ruimtewesens wat die aarde gaan betree en oorneem. Meeste van ons slaan egter geen ag op die 2012 voorspellings nie en sien dit as niks meer as `n belaglike spul nie, maar indien die twyfel wel ver agter in jou kop wegkruip, bied Perdeby jou `n lys van dinge wat jy moet doen voor dit te laat is.

Verander jou graad

Tuks se verskeie kampusse is vol stories van studente wat grade studeer as gevolg van finansiële redes, druk vanaf hul ouers of bloot net omdat diegene nie keuring gekry het by die betrokke fakulteit van hul keuse nie. Op daardie onderwerp, het Perdeby `n klein brokkie wysheid om met jou te deel: verander jou graad, studeer vir eens wat jy wil studeer. Jy het net nog twee jaar om te studeer voor daar klaarblyklik niks oorbly van die Universiteit van Pretoria nie, so mens kan net sowel die meeste daarvan maak.

Gaan kry hom/haar

Meeste van ons het daardie een persoon wat veroorsaak dat jy wel na daardie half agt Termodinamika lesings toe gaan elke oggend, daardie persoon wat jy al jare begeer en net so af en toe Facebook stalk, of daardie persoon wat jy deur jou vingers laat glip het en wens sedertdien jy kan tyd terugdraai en als reg maak. Watookal jou storie, meeste van ons het een. Hierdie is jou tyd – staan op, skraap al jou moed bymekaar en spandeer jou laaste twee jaar saam daardie spesiale persoon. En as die poging `n mislukking is, kan jy darm sê jy het probeer.

Trek al die geld uit jou spaarrekening

Jou spaarrekening. Daardie goudmyn waaraan jy nog glad nie geraak het behalwe vir die paar kere wat jy jou verjaarsdaggeld van Tannie Bapsie af daarin gedeponeer het. Versoeking het nog altyd volop geloop elke keer as jy jou debietkaart, wat al jare terug begin toepak het onder die stof, sien uit die hoek van jou oog. Nou is jou kans, gryp dit aan en spandeer dit op jou laaste twee jaar.

Roadtrip die somer verby

`n Kar. `n Groep vriende. Suid-Afrika as jou speelterrein. Spring in die kar en ry Suid-Afrika plat. Volg die tuinroete op die suidkus, stop by elke dorp oor en kuier die aand weg. Volg die wynroete in die Wes-Kaap en leer al wat daar is om te weet van een van ons land se grootste kommoditeite: wyn. Spandeer `n naweek in Stellenbosch en kuier soos wat jy nog nooit gekuier het nie.

Bungee

Soos wat daar mense is wat glo dat jy nie nog `n virgin moet wees as jy doodgaan nie, glo Perdeby jy mag nie doodgaan voor jy nog nie bungee gespring het nie. Sit jou lewe op die spel, die adrenalien rush wat jy kry maak daarvoor op in tweevoud.

Hardloop kaal deur kampus

Alhoewel jy in diep moeilikheid by kampus sekurirteit sal wees, moet nie maak asof American Pie: The Naked Mile jou nie al daaraan laat dink het nie …

Spandeer `n dag op kampus met `n kledingstuk van elke koshuis aan

en wees die mees verwarrende gebeurtenis wat Tuks nog ooit gesien het.

Pub Crawl die hele Pretoria deur

Begin by Brazen Head in Lynnwood¸ werk jouself deur al Pretoria se kuierplekke en eindig in Hatfield Square vir `n gepaste einde aan `n verruklike aand. Maak net seker jy is nie die een wat moet bestuur nie.

Spandeer `n naweek by Roodeplaat Dam

Roodeplaat Dam is een van Pretoria se grootste geheime. Dit is sekerlik een van die goedkoopste plekke om te kamp, daar is nooit te veel mense nie en hulle is redelik vergewend met die vlak van geraas wat hul toelaat. As jy nie omgee vir bietjie Bilharzia in die water nie, is dit nogal plesierig om `n vinnige dip in die dam te vang.

Spandeer `n aand in die band kampeer terrein by OppiKoppi

Moet Perdeby nie verkeerd verstaan nie, OppiKoppi is `n merkwaardige ervaring by homself. Gooi `n klein kampeer terreintjie vol gesoute musikante in die mengsel in en Perdeby voorspel net goeie dinge.

Moenie enige van hierdie goed hals oor kop doen nie

Kom ons wees eerlik met mekaar, met die af kans dat al die voorspellings waar is en ons almal `n pynlike dood ly oor twee jaar, gaan jy dalk bly wees jy het die beste gemaak van jou oorblywende tyd op die aarde, maar sê nou maar Nostradamus is wéér verkeerd of die Maja’s was eintlik net te lui om hulle kalender langer te maak, gaan die afgelope twee jaar nie noodwendig so goed sit met jou gewete nie.

Die waarheid is, niemand weet verseker of die 2012 voorspellings waar is of die gevolg is van mense met te veel tyd op hulle hande nie. Mens kan nie help om herhinner te word aan Nostradamus se vorige valse voorspellings van Armageddon en op die einde van die dag help dit nie om jouself op hol te jaag daaroor nie. Troos jouself eerder met die feit dat, in die geval dat die wêreld werklik eindig as gevolg van sonvlamme of `n enorme sterrereën, gaan jy darm lewe om die merkwaardigste vuurwerkvertoning ooit te sien.

Beeld: gettyimages.com

Website | view posts