Willem se wêreld

by PDBY Staff | Sep 23, 2009 | News

HENALI KUIT

“’n Jong man van ‘n klein dorp – sonder rykdom en sonder ‘n belangrike familie of universiteitsonderrig – trek Londen toe in die laat 1580s en in ‘n merkwaardige kort tyd word hy die grootste dramaturg, nie net van sy tyd nie, maar van alle tye. Hoe kan so ‘n allemintige prestasie verklaar word?” wonder Stephen Greenblatt, outeur van Will in the World: How Shakespeare became Shakespeare.

Hierdie week besin Perdeby oor hoe dié man, boonop ‘n kaalkop met ‘n tacky goue oorbel, dit reggekry het.

“Sy werk is só asembenemend, só verlig – dis amper asof dit uit ‘n god en nie ‘n sterflike se pen gevloei het nie,” sê die meegevoerde Greenblatt van sy gunsteling woordsmous. Dit verklaar dan ook hoekom ons, blote sterflikes, dikwels skeel kyk aan al die uitgebreide metafore, ingewikkelde metrums en die thee’s, thou’s en thy’s wat uit Shakespeare se pen gestroom het.

Dit is dié dat Carien Smith, ‘n tweedejaar BA Joernalistiek student, meen: “Om Shakespeare te lees is soos om ‘n fiets te ry; jy kan nie net begin nie, jy moet oefen.” Volgens Greenblatt is daar honderde letterkundiges wat hulle ganse lewe op hierdie spreekwoordelike fiets spandeer en Shakespeare se werk en lewe bestudeer en herbestudeer.

Melissa Grobler, ‘n tweedejaar BA Visuele Studies student, dink mense wat hul liefde vir Shakespeare verkondig, is dikwels pretensieus.

“Dis soos ‘n cult,” sê sy. “Hulle dink dis cool om van Shakespeare te hou.”

In die Elizabethaanse era was daar modegiere en letterkundige aanstellerigheid van ‘n ander aard: sogenaamde “kastoneelstukke” was hoogmode; toneelstukke is geskryf met die uitsluitlike doel om gelees en nie opgevoer te word nie. Hierdie stukke is dan in klein kamertjies, verkieslik sonder vensters, gelees. ‘n Mens kan maar sê die kas-agtigheid was bedoel om die verbeelding binne te hou. Maar Shakespeare het nie voor hierdie gier geswik nie. “Shakespeare se toneelstukke was altyd beslis uit die kas uit: sy stukke is ín en ván die wêreld,” verklaar Greenblatt.

Gepraat van uit die kas uit; Sunandi Genis, tweedejaar BCom Rekeningkunde student, het haar bedenkinge oor sy seksualiteit.

Shakespeare is in 1564, waarskynlik op 23 April, in die klein Engelse dorpie Stratford-upon-Avon gebore en al is hy op 18 met Anne Hathaway, wat 26 was, getroud, is daar inderdaad heelparty akademici wat glo dat Shakespeare gay was.

Maar, sê Greenblatt, “Shakespeare was ‘n baie private mens – hy was ‘n skrywer wat sy intieme lewe vir homself gehou het.”

Tukkies stem saam dat dit nie saak maak vir wié Shakespeare lief was nie; dit gaan alles oor hóé hy dit beskryf het. Shakespeare het 154 gepubliseerde sonnette geskryf, waarvan heelwat romanties is. Tot vandag toe bloos al wat ‘n meisie is by aanhore van sy agttiende sonnet: “Shall I compare thee to a summer’s day? / Thou art more lovely and more temperate.”

“Sy sonnette is besonders,” sê Christine Gouws, ‘n derdejaar BIS Uitgewerswese student. “Hy bespreek temas wat van die begin af daar was en nog steeds relevant is.”

Grobler, weer, raak nie liries oor die Shakespeariaanse sonnet nie. “Ek hou nie van sy sonnette nie – dis te eentonig. Ek hou die meeste daarvan wanneer mense doodgaan in sy plays.”

Shakespeare se tragedies, waaronder Romeo and Juliet, Hamlet, Macbeth, Othello, Antony and Cleopatra en King Lear, is vandag van sy bekendste stukke en word ook die wydste bestudeer.

“Shakespeare tap die jammerlikheid, verwarring en hopeloosheid wat die dood in ‘n gebreekte wêreld beteken (dieselfde gebreekte wêreld waarin ons vandag nog lewe), want hy self het hierdie emosies tot op die been gevoel,” verduidelik Greenblatt hoe ons vandag nog by die tragedies aanklank vind.

“Hoe kan karakters in ‘n toneelstuk – wat tog maar net ‘n harwar woorde op die verhoog is – meedeel wat binne-in hulle aangaan? Hoe op aarde kan toeskouers hoegenaamd die dieptes… in die karakters raaksien?” vra Greenblatt.

Dalk sou Shakespeare self tevrede gewees het met ‘n meer plat-op-die-aarde en tong-in-die-kies antwoord op sy suksesverhaal. So kom sy woorde uit As You Like It: “The fool doth think he is wise, but the wise man knows himself to be a fool.”

Website | view posts