KRISTIEN POTGIETER

 Kuns moet tred hou met die samelewing. Die denkpatrone van selfs net die laaste 100 jaar bewys dit: of dit nou die ontnugtering van die Tweede Wêreldoorlog is wat in die absurde teater van Beckett weerspieël word, of die proteskuns van dramaturge soos Athol Fugard gedurende die Apartheidsjare, slaag kuns slegs wanneer dit die gemoed van ‘n generasie suksesvol kan oordra.

Want om met kuns gekonfronteer te word, is soos om in ‘n spieël te kyk. Volgens Oscar Wilde is dit “die toeskouer, en nie die lewe nie, wat kuns regtig reflekteer”. Dit is hoekom dit so belangrik is om die volgende te vra: as kuns ‘n weerspieëling van die samelewing is, wat presies vertel populêre vermaak ons van onsself?

Met die onlangse omwerking van die 1980 film Fame is daar ‘n duidelike vervlakking wat plaasgevind het. Die oorspronklike Fame het kwessies soos homoseksualiteit, huishoudelike geweld en tienerswangerskap aangespreek – en dit alles teen ‘n agtergrond van die karakters se passie vir hul onderskeie kunsvorme. Die nuwe Fame, wat laasjaar uitgereik is, is deur meeste resensente afgemaak as ‘n slordige mengelmoes van genre-konvensies – wat almal al holrug gery is deur ‘n string flieks soos High School Musical. “Hoekom sal ‘n mens ‘n R-rated kykie na aanneemlike kinders met werklike probleme vat en dit in ‘n PG-rated after-school special verander?” vra Roger Ebert, filmkritikus. Hoekom inderdaad? In sy resensie van Step Up (‘n soortgelyke voorbeeld), skryf Barry Ronge dat die storielyn ‘n “flou collage van beelde en idees is, almal geleen uit ‘n klomp ou dansfilms.”

High School Musical is – ten spyte van die onmiskenbare prettigheid – ‘n rooskleurige uitbeelding van hoërskool. Dit is flieks wat, soos Stephen Holden van die New York Times sê, “vasberade is om die realiteit op ‘n veilige afstand te hou”. Soos in die nuwe Fame, word daar nie regtig probeer om dit realisties te maak nie. Dit is eerder soos Hannah Montana – ons word vertel dat sy “die beste van twee wêrelde” het, maar almal weet dat selfs Miley Cyrus se “werklike” lewe alles behalwe geloofwaardig of selfs “gewoon” is.

JD Salinger se The Catcher in the Rye (wat in 1951 gepubliseer is) word vandag nog in skole bestudeer en word as ‘n belangrike “coming of age” verhaal beskou. Toe Salinger laas maand op 91-jarige ouderdom oorlede is, het die New York Times ‘n gesprek gepubliseer waarin skrywers, onderwysers en jongmense bespreek het hoe relevant Holden Caulfield (Catcher se hoofkarakter) se tienerangs vandag nog is. Die gevolgtrekking? Ten spyte van Facebook, selfone en Twitter, is tieners nog steeds net so “verward en alleen” soos wat Holden was.

Laura McRae Hastie, ‘n tweedejaarstudent in dierkunde, is van opinie dat “[Catcher in the Rye] ‘n bietjie te diep vir my was. Ek verkies boeke wat meer light-hearted is.” Sy voeg wel by dat dit “nogal interessant” was om ‘n boek te lees wat dinge wys soos dit regtig is – “nie soos die tipe boeke wat mens lees as jy jonger is wat jou probeer bullsh*t oor die lewe nie.”

Hoekom is daar weggedoen met die realisme van die ouer Fame? Is ‘n voorspelbare film wat deesdae gesoek word? Beteken dit dat jongmense nie meer probleme in hulle lewens het nie, of dat ons  deesdae wil ontsnap, eerder as om met die realiteit gekonfronteer te word? Of beteken dit eerder dat flieks vir die meeste jongmense ‘n kwessie geword het (om Fokofpolisiekar aan te haal) van “goedkoop kitssatisfaksie”, want dit is soveel makliker om te verteer as iets waaraan jy miskien ‘n bietjie langer moet kou?  Gauguin het gesê: “Kuns is óf plagiaat, óf revolusie.” Wat die vraag laat ontstaan – hoeveel van ons huidige “kuns” is maar net ‘n dooie herhaling van wat voor dit gemaak is?