NATASHIA HUDSON

Carina Stander, tydskrifjoernalis, digter en beeldhouer se nuutste digbundel, woud van nege en negentig vlerke, word op 29 September by Karoo Café, in Die Wilgers, vrygestel. Hierdie oud-Tukkie skilder met woorde en tower droomwêrelde met haar gedigte op. Perdeby het met Stander gesels.

Skuil daar ’n dieper betekenis agter die naam van jou bundel?

Nege en negentig vlerke is ‘n amper-daar. ‘n Byna-volledigheid. ‘n Afvlerkdier. En ‘n woud is ’n droomwêreld; ‘n plek om te verdwaal.

Jy is beeldhouer, skilder, digter, en tydskrifjoernalis. Waaruit put jy die meeste genot?

Ek ontvlug uit een kunsvorm in ‘n ander. As ek myself uithonger vir skryf deur meer aandag aan beeldhou te gee, kan ek skielik die sinne “proe”. Verder finansier die kunsvorms mekaar. Woorde is my brood, verf is my botter.

As jy terugdink aan jou studentedae, waaraan dink jy?

Om in die son op Suidkampus te beitel, sweis, swets en lag terwyl die Beatles speel. Om elke week by die manskoshuise te dans dat die vloere vonk. Hoe wow dit was om vir Perdeby stories uit te snuffel. Om die Vlieg-bundel vir Studentekultuur saam te stel.

Wat inspireer die intense emosie wat in jou gedigte deurbreek?

Stories, kuns, musiek. Ook ‘n liefde vir die wildernis, my mense, God. En ‘n brandende nuuskierigheid oor hierdie weird and wonderful planeet laat my reis soos die wind.

As jy net genoeg ink in jou pen vir net een gedig oorgehad het, waaroor sou dit gaan?

Die hemel.

Enige advies vir aspirant skrywers wat hoop om hul merk in die literêre wêreld te maak?

Wees groeigereed, nie kleinserig nie. Lees wyd. En lééf. Gooi jou deure oop. Klim ‘n berg in die nag. Snorkel kaal in die see. Besoek jou grootwordplek. Luister stip hoe mense gesels, na hul taal en lyftaal, veral na dit wat ongesê bly. Keer dan terug na jou binnekamer. En skryf met al duisend jou sintuie. Jou eie storie in jou eie stem.

Kaartjies vir die bekendstelling by Karoo Café kos R200 en sluit dié bundel met sy 70 verse, asook ‘n hoofgereg, nagereg en koffie in. Bespreking is by Bianca: 072 408 0909.