BEYERS DE VOS
Wat noem mens Koos Kombuis? Oom Koos? Meneer Kombuis? Meneer Le Toit? Kosie?
“Verskoon my, Koos? My ma het gesê ek moet jou Oom Koos noem, maar ek dink nie dit is heeltemal korrek nie.”
`n Sku glimlag, `n sagte stem: “Noem my maar Koos.”
Reg. Koos.
Koos het stilletjies by die venue ingeglip, met `n paar mense wat hom soos `n ou vriend gegroet het. Hulle ken hom mos. Koos is tog baie vriendelik, hy voel soos `n oom wat jy lanklaas gesien het. Maar Koos is skaam. Sy antwoorde is kort. Hy beantwoord vrae byna asof hy nie mooi weet wat die antwoord is nie, asof hy `n geheim verklap, asof hy nie regtig belangstel nie.
Wat is Koos Kombuis? Is hy `n rockster of `n skrywer? `n Digter of `n rubriekskrywer?
As mens oor sy musiek praat ontken hy dat hy `n goeie musikant is; praat oor sy gedigte en hy ontken dat hy `n goeie digter is. Dit is amper asof hy self nie mooi weet wie hy is nie, asof die hele ding ietwat van `n raaisel is.
Reg. Kom ons begin by die begin. Koos, die musikant. Stel hy nog daarin belang om musiek te maak? “Ek sal nie meer saam met die band toer nie, ek doen nou net `n gig hier en daar,” maar hy kom tien-teen-een volgende jaar Oppi toe.
Wat van die toestand van Afrikaanse musiek? Hy het ongeveer `n jaar gelede vir Rapport `n rubriek,“Die Antwoord is nie die antwoord nie” geskryf. Dink hy Afrikaanse musiek, musiek soos hy gemaak het, bestaan nog? Hy hou van Jack Parow, maar sê Die Antwoord is fake. Hulle musiek is vervelig. Is daar iemand wat die stem van die nuwe Afrikaner verteenwoordig? Niemand waaraan hy kan dink nie. “Maar,” sê hy, “dalk weet ek nog net nie van hulle nie.” Die kinders gaan maar aan en hy bly nie noodwendig op hoogte nie. Goed.
Weet hy dat hy die pa van Afrikaanse rockmusiek is? Nee. Weet ek wie die eerste Afrikaanse rockster was? Nee. James Philips (“al was hy `n soutie”) en Albertus Niemand. Nie Koos Kombuis nie. Klaar.
Dan onderbreek die kelner en Koos lyk effens verlig. Hy bestel `n bottel rooiwyn.
“Ek dink ek is `n beter skrywer as musikant. My liedjies is basies gedigte met baie eenvoudige wysies by.”
Koos die skrywer dan.
“Ek gaan waaragtig nie nog `n outobiografie skryf nie. Ek en Steve Hofmeyer het genoeg daarvan.” Maar hy werk aan `n paar idees vir `n roman, waaroor hy huiwer om te praat. Gaan hy dit in Afrikaans skryf? Ja. Sy eerste roman as Koos Kombuis was in Engels, maar hy noem op sy webwerf dat dit “nogal sad” is dat dit in Engels was. Hoekom? Hy hou van Engels, sê hy. Mens kan goed in Engels sê wat mens nie in Afrikaans kan nie. Dit antwoord egter nie die vraag nie. Kom ons verander taktiek. Het hy onlangse verspreidingsyfers van Afrikaanse koerante gesien? Dink hy Afrikaans is in die moeilikheid? “Ek dink dit is dalk die einde van standaard Afrikaans. Maar daar sal `n nuwe dialek wees. Afrikaans sal nie uitsterf nie.”
Goed so, kom ons gesels dan oor Koos die rubriekskrywer. Hy skryf gereeld op Mail & Guardian se Thought Leader blog, asook in die Rapport. Hy het vroeër vanjaar oor Desmond Tutu se “wit belasting” geskryf en skryf ook gereeld oor politieke onderwerpe. Dink hy dat dit sy nuwe roeping is, hierdie nuwe weergawe van die boodskap in sy vroeë musiek?
“Dit behoort nie oor ras te gaan nie. Ons gaan nooit vorder as dit so `n groot rol speel nie.”
Hy is bekommerd oor die veiligheid in ons land en oor ons hospitale en skole. Hy is `n pa, hy wil weet dat sy kinders veilig is.
“Ek is nie een van daardie mense wat die land sal verlaat nie. Ek sal ook nie weet waar de f*k om heen te gaan nie, want ek kan nie aan `n ander plek dink waar ek wil wees nie.”
Uiteindelik! Dit lyk asof Koos die pa, Koos die Suid-Afrikaner, wil praat.
Maar die onderhoud is amper verby. Hy moet verhoog toe. `n Laaste probeerslag: gaan daar nog `n digbundel wees? Hy dink nie hy is `n baie goeie digter nie, maar hy kan goeie lirieke skryf. Hy sit maar die wysies by. Maar het hy nie nou-nou gesê dat hy `n beter digter as musikant is nie? Het hy? Dalk is hy.
Een laaste vraag. Gaan hy “Lisa se Klavier” speel? Koos frons en sug effens. Hy sal seker moet, nê?
Koos Kombuis is steeds `n vreemdeling: frustrerend, onverklaarbaar. Maar dan klim hy met sy bottel Beyerskloof (nie meer Tassies nie, onthou) op die verhoog en sing “Lisa se Klavier”. Koos is cool. Die hele wêreld word stil…
Foto: JP Nathrass