MIGNON PEENS
In hierdie Perdeby herdenkingsuitgawe kyk ons bietjie na die Tukkiedames van die 1970’s in vergelyking met die moderne Tukkiedames. Die sewentigerjare was bekend vir die klem wat dit op die posisie van `n vrou in die samelewing geplaas het, asook die instelling van vroueregte. Daar het dus ook `n weeklikse “Damesblad” in die Perdeby verskyn in die sewentigs.
In die beginjare van die Universiteit van Pretoria was daar slegs `n handjievol dames wat die besluit geneem het om universiteit aan te pak, in plaas daarvan om dadelik die rol van `n huisvrou in te neem. Die vrouens wat wél besluit het om te studeer het kursusse soos huishoudkunde en ander soortgelyke studierigtings gevolg. In vandag se tyd produseer Tuks suksesvolle beroepsvroue wat nie net die kuns van huishouding kan bemeester nie, maar ook ingenieurswese, medies en welke ander studierigting wat deur Tuks aangebied word. Tuks is ook vandag ideaal vir die Tukkiedame wat `n broep in sport wil volg, en het al menige beroemde vroulike sportsterre opgelei.
In die sewentigs het die prentjie baie anders gelyk. Daar was verskeie advertensies en artikels in Perdeby wat die ideale vrou van daardie jare voorgestel het. Advertensies oor verloofringe, dansklasse, naaldwerkklasse, haarstylmodes en selfs ballet leotards was oral te sien. Die weeklikse “Damesblad” het onder andere “Wat weet jy dame?”-raaisels bevat met algemene kennis vrae soos “Wie is mej. SA van 1975?” en instruksies vir die dame soos “Hoe om jou kar se band om te ruil”. Die “Damesblad” het ook gereeld po?sie publiseer wat protesteer het teen die oppressie van die vrou, soos Ingrid Jonker se “Die stem van die vrou” en Antjie Krog se bekende woorde “Ek is, die Here hoor my, `n vry f****n vrou” te voorskyn gebring.
Tuks is vandag `n moderne liberale kampus met `n variasie van studente, wat hulself kleed nes hul begeer en uitdrukking gee aan die identiteite wat hulle vir hulself skep. Mens kry iets van alles op kampus, van primadonna’s in ho?hakskoene, tot kaalvoet hippies met kopbande. In die konserwatiewe sewentigerjare was Perdeby vol artikels soos “Dames Uniek” wat gestipuleer het dat die dames verhoed word om behoorlik te kon uitdrukking gee aan hul kreatiwiteit en oorspronklikheid. Dit was as gevolg van die kledingregulasies en gedragskodes wat hulle moes volg, byvoorbeeld die lengtes van hul rompies, ensovoorts. Die artikel “Dames rook ondergronds” was die artikel wat die stereotipering van die Asterhof-trouvrou geskep het en die verwagtinge van `n opregte dame gestel het. Nog voorbeelde van artikels wat die rol van die vrou as middelpunt gehad het, was “Invloede verdeel tukkies” wat `n kritiese artikel oor die ontwikkeling van die samelewing se ideologie van beskawing was, en `n artikel oor wat vrouwees beteken in die terrein van politiek, met die titel “Nabetragting”.
Daar was ook `n “Finesse-week” met die slagspreuk “Tukkiedames, hoe verantwoord ons die eise wat aan ons gestel word? Die eis om vrou te wees op elke terrein van die lewe.” Tydens hierdie Finesse-week het menige kundiges, professors en dokters in die Musaion op kampus die dames kom spreek oor sake soos effektiewe kommunikasie, die uitdagings en rol van die jong vrou, dissipline begin by die kinderwiggie, gesinsbeplanning, ginekologie en sielkundige uitwerking van die studentediensburo.
Vandag is die rol van Tukkiesdames baie anders, te danke aan die meisies wat braaf genoeg was om te veg vir hul, (en ons) regte in die sewentigerjare. Vandag studeer ons wat ons wil, dra wat ons wil en ons weet dat wanneer ons werkgeleenthede begin soek, ons `n regverdige kans sal hê om aangestel te word – anders as in die sewentigs – die werk te kry en dieselfde betaal te word as ons manlike kollegas.
Die vraag is egter: Wat is nou die rol van dames op kampus? Watter bydrae gaan ons maak vir die toekomstige dames wat by Tuks studeer? En wat gaan Perdeby van ons dekade se Tukkiesdames te sê hê oor dertig jaar van nou af?
Foto: UP argiewe