JACO JORDAAN

OppiKoppi is nie net ‘n besonder stowwerige musiekfees in sy 15de bestaansjaar nie. Dis ‘n ander wêreld. ‘n Wêreld waarin persoonlike higiëne, ruimte en verantwoordelikheid unieke betekenisse aanneem. Dis ‘n plek waar jou beste vriende jou bewusteloos op ‘n grasperk sal los sodat ander feesgangers ondenkbare dinge met jou kan aanvang, maar waar jy dik stukke met ‘n wildvreemde in die ry voor die toilette of kosstalletjies kan gesels. En wilder en vreemder as die skepsels by OppiKoppi kry jy nie.

Perdeby het ná ‘n bietjie verdwaal eers Donderdagaand by die OppiKoppi-terrein naby Northam aangekom en moes dus in die donker tent opslaan. ‘n Sekere redaksielid wat met sy lang rock-and-roll haarstyl ‘n lappie grond tussen die doringbome wou afsper, het telkens à la Absalom een met die natuur geraak. Nie dat dit mense verhoed het om in die vroeë oggendure dwarsdeur die rooi en wit lint te ry en reg in die middel van ons kampterrein te stop nie.

Doodhonger is ons ingelig dat die kosstalletjies eers vanaf Vrydag beskikbaar sou wees. Ons geniet toe maar ‘n gebalanseerde aandete van Ghost Pops en crackers en wend ‘n hopelose poging aan om ‘n goeie nagrus voor die groot makietie in te kry. Aangesien die ware fauna jare terug van hierdie stukkie bosveld verjaag is, voel menige kampeerder dat hulle die nis van jakkelse en naguile moet vul.

Krete van “Oppieee!” klink regdeur die nag op, wat weerklink word deur ‘n “Koppieee!” uit ‘n ander uithoek van die kampterrein. Dit was effe onrusbarend dat mense die eerste aand reeds hulself so luidkeels moes herinner waar hulle was. Baie feesgangers het dit ook nodig geag om ‘n desibeloorlog met hulle karradio’s te voer. ‘n Gewilde keuse was death metal met sonsopkoms, maar enigiets van Abba tot gospel is gehoor.

Op pad na die feesterrein die volgende oggend is ons binne ses minute dagga, ‘shrooms en seks in die bos aangebied. Ons het al drie beleefd afgekeer en ons eerder aan die lekkerste bacon burgers te buite gegaan. Aangesien die bands eers die aand begin speel het, het ons die ander groot vermaaklikheid van OppiKoppi geniet: om jou aan jou mede-musiekliefhebbers te vergaap.

Op enige gegewe oomblik kon jy van die volgende aanskou: ouens in pienk en blou leotards, ‘n oorgewig middeljarige man in ‘n noupassende Superman-kostuum, mense wat soos ‘n Tequila-bottel, ‘n feetjie of Beethoven aangetrek is en ander wat met ‘n plastiek swembad, toiletsitplek, tuindwergie, zebrabeeldjie of opblaassekspop rondloop. Daar is soveel mense wat so hard probeer om uit te staan dat dit naderhand makliker raak om diegene in T-hemde en jeans uit te wys. Die gevoel van eenheid in verskeidenheid is egter misleidend. Ten spyte dat die fees vanjaar tot nasionale monument verklaar is, is dit steeds oorweldigend wit en oorwegend Afrikaans.

Daar is definitief iets in die lug by OppiKoppi – buiten die daggawalms – wat ‘n onwerklike gevoel van vreedsaamheid en samehorigheid aan die fees verleen. Almal is The Top Ten daar vir die ongebreidelde hedonisme en is oor die algemeen baie verdraagsaam oor hoe ander feesgangers hulself geniet. By hierdie Sodom en Gomorra moet ‘n mens maar ander hul oortredings vergewe want hulle weet die meeste van die tyd nie wat hulle doen nie: iemand wat ‘n ontkleedans bo-op sy bakkie uitvoer of al hulle kampstoele aan ‘n boom ophang is beswaarlik toerekeningsvatbaar.

As die musiek eers begin, is al die sorge van jou banale middelklas bestaan vergete. Of jy nou rustig op die gras met ‘n halwe oor lê en luister of bos gaan voor die verhoog – daar is genoeg verskeidenheid om jou siel te streel terwyl jy jou liggaam geweld aandoen. Jou grootste bekommernis is hoe jy jou weg na jou tent gaan terugvind om nóg drank of ‘n baadjie vir die yskoue nagte te kry. Toe ek Sondagaand terug kamp toe strompel om myself van ‘n bibberdood te red, het ek ons eie Tukkie-Stukkie in flagrante delicto met ‘n stukkie van sy eie in ons tent betrap. Daar is niks soos ware smoorverliefdheid op ‘n stowwerige vreemdeling nie.

Die stof is orals: op elke oppervlak en in elke opening. ‘n Mens probeer nes Lady Macbeth te vergeefs om jou hande skoon te hou deur elke tien minute na ‘n wet wipe te gryp. Elke oggend voel jy toenemend slegter en teen Maandagmôre lyk en voel almal soos zombies ná die apokalips. Ewe skielik wil jy met alle mag en mening teruggaan na die bourgeois wêreld van binnenshuise badkamers. Maar jy weet jy gaan volgende jaar terugkeer na hierdie wonderwêreld waar enigiets moontlik is – behalwe om skoon of nugter te bly.