SIMONE VENTER

Met St. Patrick’s Day wat weer verlede week met beloftes van leprechauns en Ierse geluk gevier is, het Perdeby gewonder wat presies die eintlike dryfkrag agter die viering is: ‘n patriotisme vir Ierse tradisies of ‘n dag van pret, plesier en drink? Weet studente waaroor die dag gaan, of het dit ook soos ander vakansiedae meer oor die halsbandjie as die hondjie begin gaan?

Feesdae, ‘n geliefde woord onder jonk en oud – ‘n breuk uit ons besige, alledaagse roetine, of soos Shayna Taljaard, ‘n BCom Bemarkingstudent, dit sien: “… net nog ‘n verskoning om te drink.” Het feesdae regtig so verwronge geraak en heeltemal hulle betekenis verloor? Het ons dae met diep betekenisse verminder na net nog ‘n dag om na willekeur partytjie te hou? Weet ons nog wat ons vier of het dit ook tussen die leë bierbottels en oorvol kospotte weggeraak?

St. Patrick’s Day word elke jaar met baie ywer en entoesiasme in Pretoria gevier, maar die meeste mense wat Guiness drink en groen aantrek weet nie waaroor die dag gaan of wat die geskiedenis is wat agter die dag lê nie. Saint Patrick, seun van ‘n diaken, is gebore in Brittanje en op 16-jarige ouderdom gevange geneem en as ‘n slaaf na Ierland gevat. Hy het na meer as ses jaar uiteindelik ontsnap en na Brittanje teruggekeer. Tydens sy gevangenisskap het hy tot bekering gekom en ná sy ontsnapping, geloofsopleiding ontvang vir meer as 15 jaar. Ná sy bevestiging as priester, het hy teruggekeer na Ierland waar hy die woord aan almal verkondig het. Hy word gesien as ‘n heilige deur baie van die Iere, ‘n medium tussen God en mense, en daarom word sy dood op 17 Maart 460 n.C. vandag nog as ‘n geloofsfees gevier.

Die St. Patrick’s Day fees is vir die eerste keer in 1762 gevier, nie in Ierland nie, maar in Amerika. Ierse soldate (verbonde aan die Amerikanse weermag) het deur die strate van New York gemarsjeer onder begeleiding van Ierse musiek. Dit het gehelp om ‘n sekere patriotisme en liefde vir hulle vaderland onder soldate en Ierse immigrante te herroep en hulle te laat onthou van die Ierse bloed wat deur hulle are pomp en hulle as nasie bind. Alhoewel die fees eers in 1996 vir die eerste keer in Ierland plaasgevind het, is dit vandag ‘n vyf-dae lange gebeurtenis wat deur net onder ‘n miljoen mense in Dublin bygewoon word. Dit hou egter nie daar op nie. Reg rondom die wêreld is almal op 17 Maart deel van die Ierse fees, selfs hier in ons eie Jakkarandastad.

Perdeby het Tukkie-studente gevra waaroor dink hulle St. Patrick’s Day gaan. Pam Bothma, ‘n student in opvoedkundige sielkunde, sê: “Dit gee vir die Iere ? verskoning om te drink sonder om skuldig te voel.” Verloor studente hulself só in die viering dat hulle die rede vir die fees vergeet? ‘n Bekende Ierse spreekwoord slaan nogal die spyker op die kop en pas nogal heel mooi in by sommige studente se motivering, veral vir St. Paddy’s Day: “There are many good reasons for drinking. One has just entered my head. If a man doesn’t drink when he’s living, how in the hell can he drink when he’s dead?”  

Maar is dit nie maar ‘n bekende tendens en verskynsel vir enige vakansiedag of fees nie? Wat vier jy regtig? As jy oningelig is oor die geskiedenis en betekenis van sekere dae, hoe weet jy of jy nie dalk besig is om iets te vier wat heeltemal teenstrydig is met jou geloof, waardes of sienings oor sekere kwessies nie? Maak dit egter ook saak wat gevier word as die bier soos water loop en jy opgeswiep word in die ongelooflike atmosfeer? Gee jy dan regtig om wat op daardie dag, honderde jare gelede, gebeur het?

Maar Pretoria sal altyd op 17 Maart groen wees. Ongeag jou rede hoekom jy dit vier, is dit tog iets wat elke studente ten minste een keer moet ervaar. Maar die vraag bly – kan ons regtig sekere dae vier terwyl ons geen idee het wat regtig daardeur gesimboliseerword nie? Verander iets regtig as ons meer inligting oor die dag het? Besluit maar self.