HENALI KUIT

Deesdae is kameras soos onbesonne oomblikke: almal het ten minste een. “Die kamera beteken dat mense sonder kunstige vaardighede in staat is om prentjies te maak. Enigeen wat in staat is om ‘n knoppie te druk… kan ‘n akkurate en realistiese prentjie van ‘n objek, ‘n persoon of ‘n plek maak,” vertel die fotograaf Pieter Swanepoel in die ensiklopedie South African Visual Culture. Perdeby kyk dié week watter knoppies jy kan druk om die beste uit jou kamera te haal.

Begin by die begin

Webwerve photography-basics.com, picturecorrect.com en photography.about.com is dit eens dat komposisie die belangrikste ding is om onder die knie te kry as jy jou foto’s meer professioneel en kunstig wil laat lyk. Eenvoudige raad is om dit wat jy wil afneem in ‘n L-vorm binne die raam te probeer plaas; dit wil sê, kyk uit vir drie fokuspunte en lê dit vas. Die reël van derdes is ook maklik om te onthou en te implementeer: verbeel jou die beoogde foto is in derdes opgedeel en, in plaas daarvan om jou onderwerp in die middel van die raam te plaas, beweeg die kamera só dat twee derdes deur agtergrond beslaan word. Moet egter nie laat daar aan jou voorgesê word wat goed of sleg en sodanig gesofistikeerd is nie. “Ek haat goeie smaak,” sê Helmut Newton, befaamde naakstudie-fotograaf. “Dis die ergste ding wat ‘n kreatiewe persoon kan tref.”

Inkopies

Perdeby het fotografie-winkels in Pretoria in cognito ingevaar om uit te sus watter takke ‘n besoek werd is. FotoCats op die tweede vloer van Brooklyn Mall het ‘n groot verskeidenheid van kompakte digitale kameras wat by R2 000 begin. FotoCats hou ook heelwat SLR- en DSLR-kameras in voorraad en die bybehore op die rakke is merendeels vir hierdie duur kameras. SLR en DSLR staan vir “single lens reflect” en “digital single lens reflect” wat beteken dat die kamera ‘n meganiese spieëlsisteem in sy binnegoed het; dié spieël penta-prisma wys vir jou die presiese beeld wat jy wil afneem as jy deur die visier (viewfinder) kyk. Om hierdie rede word SLR en DSLR kameras meestal professioneel gebruik.

Qphoto is meer gepas vir ‘n amateur se sak: hier kan jy jou foto’s op allerhande parafernalia soos coasters, mouse pads en T-hemde laat druk en soos Anne Geddes voel vir die prys van ‘n koffiebeker.

Universal Image in Woodlands Boulevard (in De Ville Bois-weg) mag dalk uit jou pad wees, maar dié winkel is een van die min wie se vertoonkaste nie agter die toonbank gehou word nie; hier kan jy beloer wat jy wil sonder dat ‘n verkoopsassistent soos die duiwel op jou skouer sit.

Beide Universal Image en die Waterkloof Qphoto Prolab stel die Coolpix S-reeks deur Nikon voor vir nie-professionele fotograwe wat op soek is na ‘n digitale kamera; dié handpalm-grootte kameras begin by tien megapixels en 3x optiese zoom en kos van R2 000 tot R3 600. FotoCats stel die Sony Cybershot DSC-S950 Steady Shot as ‘n goedkoper alternatief teen R2 229 vir tien megapixels en 4x optiese zoom, voor.

Doen dit self

Met dié dat Adobe Photoshop ‘n werkwoord geraak het, het Perdeby rondgekliek en gekyk watter truuks ‘n oningeligte fotograaf alles kan bemagtig. Die layer-funksie is baie handig; deur ‘n duplikaat-layer van jou foto te maak (kliek op “Layers” in die “Layers”-toolbar regs bo in die venster; regs-kliek op “Background” en kies “Duplicate layer”) kan jy verskillende style in een foto hê. Maak byvoorbeeld die boonste layer swart-en-wit (desatureer die foto by die “Adjust Colour”-opsie in die “Enhance”-menu bar) en gebruik die uitveër-funksie in die quick toolbar om gekleurde dele uit die onderste layer te laat deurslaan.

Die fotografie-wêreld

Die internet is die maklikste manier om by ‘n fotografie-gemeenskap aan te sluit. Die volgende webwerve vertoon Suid Afrikaanse kunstenaars se foto’s en het insiggewende artikels oor die nuuste tendense: www.exposuregallery.co.za, www.glamourmechanics.co.za en www.shinegroup.com/shine/photographers. Liam Lynch, veral bekend vir sy foto’s van Fokkofpolisiekar, se blog (liamlynchphotographer.blogspot.com) met sy nuutste foto’s en staaltjies oor sy strydwonde is baie vermaaklik. Jy kan ook ‘n drukker-vriendelike patroon om jou eie ge-pimpde gaatjies-kamera te maak, by corbis.readymech.com aflaai of pop art van jou gesig maak by die interaktiewe bighugelabs.com/warholizer.php.