GUSTAV PRELLER

Dis ’n Sondagaand in Pretoria. In die Universiteitsoord NG Kerk sing ’n skare Afrikaanssprekende jongmense Psalms uit Die Liedboek; in Tings & Times luister ’n eenderse skare na hoe Yolandi Vi$$er iets oor jou ma en ’n fishpaste-jar skreeu – iets wat ek nie hier kan herhaal nie.

Die gig begin. Die vertrek is stampvol. Dit “pomp” in Ninja se woorde. Yolandi kom met goue tights en haar “next level” bucket-cut op die verhoog. Sy roep vir Ninja. Ninja verskyn uit die rokerige verhoog deur met ‘n brush-cut en ‘n raver-sonbril. Hy gluur die skare aan soos ’n maniak.

“Check it,” sê hy. “Wat pomp?”

Die speakers doef-doef. Ninja skiet die lirieke in die gehoor in soos witwarm koeëls. Asof van ’n profeet, skiet die skare die lirieke reguit terug.

Hoe kon iets soos die Die Antwoord uit die eens vroom Afrikaanse kultuur kruip? Wat het gebeur? Perdeby soek na ‘n verklaring.

Kom ons begin met snobisme. Die Afrikaanse woordeskat is vol woorde wat “kommin” mense verkleineer. Sêdinge soos “anderkant die spoorweg”, “platvloers”, “suff”, “zef”, “skollie”, tesame met tallose grappe oor die Oos-Rand en Danville, is alles goed wat reg uit die harde stoele van “goeie” Afrikaanse middelklas sitkamers stam. Hierdie woorde poog om alles wat nie inpas by die streng Calvinistiese waardes nie, te minag. Die suksesvolles in Afrikaanse musiek wys dat Afrikaners hou van mak, voorspelbare kunstenaars (Kurt Darren is steeds een van die topverkopers nasionaal, en ons almal onthou Steve se treffer met die pampoen en die trekker).  

Maar dit raak vervelig … en Afrikaanse jongmense het nie meer net die Rapport as vermaak nie. Afrikaanse musiek het al ’n lang bevrydingsgeskiedenis uit die kloue van verveligheid. Destyds was dit die Voëlvry-toer wat Afrikaans van Bles Bridges verlos het, later was daar Fokofpolisiekar en Karen Zoid. Die Antwoord het vir nou die antwoord en dit lê nie soos voorheen in die vervelige suburbs soos Belville nie, maar in die “zefside”.

Dit wat anderkant die spoorweg, agterkant die longdrop en in die zefste agterkamers aan die gang was, is nou verwoord en het elke eens-so-statige huisgesin se MP3’s en Telkom internetlyne ingeval.

En, vir nou, is dit dalk goed so.

Die Antwoord is, in hul eie woorde, “next level zeff rap rave sh*t”. Fokofpolisiekar was dalk eens stout (o my jinne die naam!); Die Antwoord maak koeksisters van Fokof.

Wat egter eienaardig is, is dat Die Antwoord nie net in die plaaslike oorfone in dreun nie:  die groep het ’n internasionale veldbrand van oor ’n miljoen hits op YouTube met hul video “Enter the Ninja” veroorsaak. Selfs die New York Times het regop gesit en die Britse The Guardian het hulle as “an unhinged hotchpotch of Euro dance, snap beats and rapid-fire rapping,” beskryf.

Hierdie internet-roem het die Afrikaanssprekendes wat bloos of kwaad word as hulle van Die Antwoord se sukses hoor, platgeslaan.

Platgeslaan omdat Die Antwoord zef, platvloers, en vuil is – en almal daarom so mal oor hulle is. Yolandi beskryf  die groep as: “Our whole philosophy basically is, like, drive fast and play k*k music loud.” In die nuwe video beskryf Ninja homself as ‘n verteenwoordiger van Suid-Afrikaanse kultuur wat volgens hom “many things f*cked into one person” is.

Of ’n mens van hulle hou of nie, Die Antwoord het iets aan Afrikaans en Suid-Afrikaanse musiek gedoen wat dit verander het. Op ’n manier is dit vryer as ooit.