Boeddhisme

by PDBY Staff | Mar 18, 2010 | News

HENALI KUIT

Baie van ons se kennis oor Oosterse gelowe strek net tot by Karate Kid. Karate Kid Two, as die kennisdors sterk is. Perdeby dink dié week verder as Mister Miyagi en “wax on, wax off” om uit te vind waaroor Boeddhisme regtig gaan.

Volgens die HAT is Boeddhisme die “leer of godsdiens van Boeddha, wat veral in Indië, Sentraal- en Suid-Asië beoefen word”. Boeddha is die naam wat vandag gegee word vir ? man met die naam Siddhartha Gautama. ? Rykmanskind, het Siddhartha Gautama eers met die harde werklikheid buite sy paleismure kennis gemaak toe hy dit op 29-jarige ouderdom buitentoe gewaag het. Volgens oorlewering was die toekomstige Boeddha ontnugter deur wat hy teëgekom het; spesifiek ? siek man, ? lyk, ? ou man en ? askeet (iemand wat homself vir godsdienstige redes van sinlike genot weerhou).

Met sy onskuld nou verlore, onderneem Siddhartha Gautama om geestelike vervulling na te jaag – hy doen dit deur ‘n askeet te word en homself, onder andere, uit te honger. Na ? arm meisie hom egter melk en rys aanbied, besluit hy om die kos te aanvaar en die masochisme te laat vaar.

Nóú voel Siddhartha Gautama dat hy ? goue middeweg tussen dekadensie en asketisme moet vind. Om dít te verwesenlik besluit hy om te mediteer tot hy nirvana bereik. Na hy hierdie doelwit aan homself gestel het, gaan sit hy onder ? vyeboom (“bodhi” boom in Chinees) waar hy sy nirvana vind en die serene kruisbeen-Boeddha met die oranje toga word wat ons ons vandag voorstel. Hedendaagse Boeddhiste streef daarna om in ? vreedsame verhouding met hul medemens en die heelal te leef.

Volgens die Mail & Guardian van Mei 2005, is slegs 1% van Suid-Afrikaners Boeddhiste. Die rol wat Boeddhisme dus in Suid Afrika speel is gevolglik nie baie voor die handliggend nie, maar die Mail & Guardian vertel verder dat Boeddhistiese uitreikprogramme verantwoordelik is vir ? opbloei in die waardering van algehele gesondheid – veral onder Suid-Afrika se vigslyers. Tholakele Buthelezi, HIV-positief en woonagtig in Eshowe, Kwa-Zulu Natal, vertel aan die Mail & Gaurdian dat sy geleer is om te mediteer en dat dit haar werklik help om rus vir haar siel te kry ten spyte van haar probleme.

Nan Hua (oftewel “blom in die suide”), die Suid-Afrikaanse tempel vir Humanistiese Boeddhisme, is werksaam met HIV- en vigslyers soos Buthelezi. Nan Hua, in Cultura Park, Bronkhorstspruit, verwelkom toeriste en nuuskierige agies tot in hulle binnehof.

 Hier ontmoet Perdeby Eric en Jan, twee monnike-in-opleiding wat nie hul vanne wil verskaf nie. Eric kom oorspronklik van Tanzanië en beplan om na sy opleiding by Nan Hua terug te keer en dharma (die leerstellings van sy geloof) te verkondig. Jan is so Afrikaans soos wat sy Calvinistiese naam suggereer. Hy en Eric het deur die African Buddhist Seminary (‘n organisasie wat jong mans die geleentheid bied om as monnike opgelei te word) by die Nan Hua tempel betrokke geraak. Hier swot hulle meer as meeste Tukkies.

“Die eerste jaar is Boeddhistiese oriëntering, in die tweede jaar leer jy Chinees en die Chinese kultuur, in die derde jaar studeer jy Boeddhisme en filosofie in diepte,” vertel hulle. Stilte heers by Nan Hua; toeriste word ook versoek om nie te rook, drink of dwelms op die tempelgronde te gebruik, of piekniek op die gras te hou nie. Daar is egter, effe ironies, ? baie gewilde Curio Shop.

Die huidige Dalai Lama, Lhamo Döndrub, vat dit raak in sy Nobelprys-toespraak: “Dit maak nie saak van watter deel van die wêreld ons af kom nie, basies is ons almal dieselfde.”

Website | view posts