HENALI KUIT
Vir baie Tukkies voel die einde van die vakansie soos die einde van die wêreld. Met die kampus wat oorloop van verwarde gesigte, paniekerige mensies wat aanwysings vra en rye op rye net waar jy kyk, lyk dit voorwaar soos die einde. Perdeby vind dié week uit of ook die res van die wêreld gereed moet staan vir ‘n onafwendbare apokalipsis.
Themba Lukhele, ‘n eerstejaar wat biologiese wetenskappe swot, reken die aarde, soos ons dit ken, se kierankies is gebraai. Dít omdat aardverhitting so ‘n groot probleem begin word. Terselfdertyd reken Lukhele dat studente nie werklik bekommerd hoef te wees oor ‘n apokalipsis nie: “Ons generasie is heeltemal veilig … iets sal in ‘n volgende era gebeur.” Hy skat 50 miljoen jaar is om en by genoeg tyd vir aardverhitting om in werking te tree en vir die wêreld om die gees te gee. Hoe dan só ‘n uitspattige jaartal? “Ek is ‘n wetenskaplike,” verklaar Lukhele skouerophalend.
Yovo de Boer, Hoofsekretaris van die Verenigde Nasies se Raamwerkkonvensie oor Klimaatsverandering, is minder optimisties. “… [D]ie horlosie stap aan,” sê hy aan die Mail & Guardian van Augustus 2008, “mense wat in ‘n brandende huis vasgekeer is, kan nie bekostig om tyd te verspil met argumente nie.” De Boer verwys na die twis op die politieke terrein wat die dringendheid van aardverhitting betref. Dit blyk dat, terwyl politici en wetenskaplikes kibbel oor die ernstigheid van aardverhitting, Jan en alleman reeds klimaatsverandering aan sy bas voel. Én die oorsaak daarvan? In ‘n meningspeiling oor klimaatsverandering, onderneem deur Beeld op 18 Desember verlede jaar, glo 4 400 koerantlesers dat “mense ‘n invloed op aardverhitting [het]”.
Die broosheid van die klimaat is egter nie die enigste bekommernis vir doemprofete nie. Die 2012-fenomeen (waarvolgens sterrekykers van die Maya-beskawing voorspel het dat die wêreld op 21 Desember 2012 sal eindig en dit só op hul kalenders aangeteken het) geniet al hoe meer aandag soos die datum naderkom. ‘n Fliek wat die verwesenliking van die voorspelling uitbeeld, getiteld 2012, is onlangs uitgereik.
Perdeby het gaan vasstel of daar enige geloofwaardigheid in die fliek steek. Met gehore wat kort-kort kraai van die lag vir tonele wat duidelik veronderstel is om eerder ‘n naelkouery te inspireer, blyk dit dat ‘n apokalipsis binne twee jaar nie ‘n werklikheid vir Suid-Afrikaners is nie. “Flieks is flieks, weet jy,” wys Phalane Matsape Lucia, in haar eerste jaar van erfenis- en kultuurtoerisme, uit. “Daai goed is iemand met ‘n vreeslike skerp verbeelding se breinkind.”
Die kreatiewe tipes, meen Lucia, dink hulself maklik in die ergste moontlik situasie in. “Ek bekommer my nie oor sulke goed nie. As ek heeltyd sou wonder wat word van morê, sou ek vandag glad nie leef nie.”
Tiisetso Ntlatleng, wat besig is met sy finale jaar van elektroniese ingenieurswese, steur hom ook nie aan die herrie nie: “Dit was eers 2000, nou is dit 2012. Ek koop nie die storie nie.”
As jý bekommerd is oor ‘n naderende einde, onthou dat meeste dinge gebeur wanneer mens dit die minste verwag, soos Janus Fouché, ‘n derdejaar multimediastudent, uitwys. Hiervolgens sal die einde van die wêreld “amper definitief nie in 2012 gebeur nie”. Dit sal inderdaad “die veiligste jaar wees vir die aarde”. Dus kan mens ontspan.
Vir eers.