AFRIKAANS: kom uit die kombuis

by PDBY Staff | Feb 2, 2010 | News

MEGAN SCHOEMAN

 ‘n Kombuistaal, lingua franca, Kreoolse taal. Dit is hoe Afrikaans begin het. Daarna het Afrikaanses die taal doelbewus ontwikkel deur Afrikaanse skryfwerk, poësie, drama, teater, musiek en onderrig te gebruik om die Afrikaanse volk se stempel op die land af te druk. Maar lewe die tradisie voort? Waar staan ons taal tans in Suid-Afrika se gediversifiseerde samelewing? Is Afrikaans besig om uit te sterf?

“Definitief nie,” sê Awie Erasmus, voorsitter van AfriForum Jeug se Tuks-tak en honneursstudent in ondernemingsbestuur, “Afrikaans is tans besig om een van sy grootste herlewings te beleef, veral onder studente.”

Erasmus sê verder: “Die rede hoekom mense soms daarna verwys dat Afrikaans besig is om uit te sterf, is [om]dat ons op basies alle kampusse druk ervaar, waar vakke al hoe meer slegs in Engels aangebied word en Afrikaans eenkant toe geskuif word.”

Dit is juis vir dié rede dat Afrikaanssprekendes, oud en jonk, steeds besig is om die stryd om Afrikaans aan te voer. Dit is maklik te sien in gevalle soos dié wat 17 Januarie op die voorblad van Rapport verskyn het. Die FW de Klerk-stigting het onlangs ‘n in-diepte gesprek en beraad oor die stryd om Afrikaans gehou. Volgens Rapport het oudpres. FW de Klerk by die beraad gesê dat die handhawing van Afrikaans aan die vyf histories Afrikaanse universiteite, sowel as die beskerming van elke Afrikaanssprekende se taalregte, nie onderhandelbaar is nie.

Daar is ook talle ander organisasies vir wie die voortbestaan, beskerming en bevordering van Afrikaans hulle missie is: die Afrikaanse Taalraad (ATR), die ATKV, die Akademie vir Wetenskap en Kuns, Solidariteit, AfriForum, die Afrikanerbond, die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) en vele ander.

Alhoewel dit grootliks verantwoordelik is vir die voortbestaan en bevordering van Afrikaans, is moedertaalonderrig nie al wat die taal aan die lewe hou nie. Klassieke romans, soos Fiela se Kind, toneelstukke en musiek dra die taal voort van generasie tot generasie.

En dit is juis die uitbreiding van die boek-, drama- en musiekindustrieë wat sorg vir ‘n dubbel brandewyn in Afrikaans se Coke.

Die afgelope 15 jaar was ‘n bloeitydperk vir Afrikaanse kunstefeeste soos die KKNK, Innibos en Oppikoppi waar beide ou en nuwe talent op die verhoog te sien is. Die trotse Afrikaanse gees is ook onvermydelik by die jaarlikse Huisgenoot Skouspel waar die gewildste Afrikaanse musiekkunstenaars optree. Dié konsert, wat elke jaar deur duisende mense bygewoon word, is ‘n bewys van die groeiende Afrikaanse musiekbedryf.

Die Afrikaanse televisiebedryf is nog ‘n bewys van ‘n springlewendige, groeiende taal. DSTV het ‘n hele kanaal aan Afrikaans geallokeer. Kyknet is ‘n platvorm vir ou en nuwe Afrikaanse dramas, sepies, gesels- en reisprogramme om net ‘n paar te noem. Dan is daar die musiekkanaal MK, die eerste Afrikaanse musiekkanaal om op die toneel te verskyn.

Met Engels as internasionale taal, word Afrikaans soms in die korporatiewe omgewing afgeskeep. “Dis allerbelangrik om te voorsien in hul [die verbruikers se] behoefte om in hul voorkeurtaal – die taal wat hulle goed verstaan – bedien te word.” meen dr. Danie Cronjé, voorsitter van die Dagbreek Trust en voormalige voorsitter van ABSA. Die Dagbreek Trust is ‘n mede-eienaar van die mediahuis Perskor. As deel van hulle missie om Afrikaans te bevorder, ondersteun hulle die Afrikaanse media en verskeie Afrikaans-bevorderende projekte.

Prof. Heinrich Grebe, medeprofessor by die UP Departement Afrikaans, sê dat Afrikaans bedreig word as “sprekers bereid is om ‘n ander taal belangriker as Afrikaans te ag”. Hy meen egter dat Afrikaans slegs sal oorleef as “sprekers die taal na meer waarde skat as ‘n kombuistaal”.

Breyten Breytenbach sê: “Wat ek skryf is woorde, wat ek woord skrywe.”

En Erasmus kom ooreen met Grebe en Breytenbach deur te sê dat diegene wat “die taal praat, daarin lag, daarin dig en daarin liefhet” Afrikaans sal voortdra. En met woorde soos “mos”, “lus”, “darem” en “lekker”, kan Afrikaans ook op nie-Afrikaanssprekendes staatmaak om dit as spreektaal aan die lewe te hou!

Dit kom daarop neer dat alle Suid-Afrikaners Afrikaans moet beskerm. Cronjé beklemtoon dié feit deur te vra: “En as jy nie self vir jou taal opstaan nie, wie gaan dit namens jou doen?”

Website | view posts