AfriForum jeug veg vir hartstaal

by PDBY Staff | Feb 15, 2011 | News

ANKE OLIVIER

 

Op Woensdag 8 Februarie het lede van AfriForum Jeug ? voorlegging aan die minister van hoër onderwys en opleiding, Dr. Blade Nzimande, oorhandig.

Die voorlegging het gehandel oor die bevordering van moedertaalonderrig in Suid Afrika. `n Konferensie is by die Universiteit van Pretoria aangebied om die belangrikheid van moedertaalonderrig te verduidelik. Die regsposisie, impak en befondsing van moedertaalonderrig is bespreek en ? aksieplan is voorgelê.

Mnr. Ernst Roets, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, het daarop gewys dat die staat, volgens die grondwet, artikel 6, `n verpligting het om die status van alle inheemse tale van Suid Afrika, insluitend Afrikaans, te verhoog en te bevorder. “Volgens artikel 29(2) van die Grondwet, het elkeen die reg om onderwys te ontvang in die taal van sy keuse, waar dit redelikerwys doenbaar is,” het Roets verduidelik. Na aanleiding van hierdie wet, vra AfriForum Jeug dat die staat sy befondsingsformule aan tersiêre instellings aanpas en ? addisionele 2% aan institusionele instellings voorsien om moedertaalonderrig te bevorder.

Liza-Marie Coetzee, `n AfriForum Jeuglid, het uitgelig dat Afrika voortdurend veg teen koloniale instellings, maar Engels en ander uitheemse, koloniale tale word behou. Sy het verder na verskeie gevallestudies van reg oor die wêreld verwys, om die impak en voordeel van moedertaalonderrig te beredeneer.

Charl Oberholzer, nasionale ondervoorsitter van AfriForum Jeug en voorsitter van die verteenwoordigende studente raad van UP, het sy kommer uitgespreek oor meertaligheid in die transformasie proses van Suid Afrika. Volgens hom word daar steeds gediskrimineer teen die voorheen benadeeldes omdat hulle tale geen verteenwoordiging geniet op tersiêre vlak nie. “As jy met iemand praat in ? taal wat hy verstaan, praat jy met sy kop, maar as jy met hom praat in ? taal waarvoor hy lief is, praat jy met sy hart,” het Oberholzer verduidelik. Hy het ook gesê dat meer as 40% van UP studente Afrikaans is. “AfriForum Jeug fokus op Afrikaans, maar ons het gesprekke met SASCO en ander organisasies, omdat ons `n kultuur by ander tale wil stig om ook vir hulle tale te veg,” het Oberholzer bygevoeg.

Uit tien studente wat deur Perdeby gevra is, voel sewe dat hulle graag eerder in hulle eie taal wil studeer en drie het gesê hulle is nie gepla nie, want hulle is Engels magtig.

Photo: Michelle Prins

Website | view posts